Hoe vertel jy vir haar hoe lief jy haar het,
hoe weet hy om jou fladderende hart te red?
Jy wil jou liefde in lirieke langsaam deel,
want gewone woorde gaan hul net verveel.
Maar woorde struikel lomp uit jou mond,
die gevaarlike gevolg is dalk dodelik ongesond.
Ek weet egter waar jy haastig hulp kan kry,
wie van agter die skerm jou na hom help vry.
Skermdigter is die naam waarmee hy gaan,
met treffende gedigte sal jy blink uitstaan,
terwyl hy buite sig agter die skerm skuil,
pronk jy met gedigte wat haar laat pruil.
Hy dig dierbaar vir beide hom en haar
en terwyl hy vir jou baie moeite spaar,
deel jy ‘n innemend intiem persoonlike gedig
wat hom of haar laat weet dis op hul gerig.
Voorbeelde van Gedigte
Hieronder is voorbeelde van die tipe
gedigte wat ek skryf.
Die webwerf word tans opdateer. Vir
meer inligting oor hoe die
Skermdigter proses werk sodat ons
vir u 'n persoonlike gedig kan
voorberei, doen gerus navraag by
WhatsApp by 074 719 3677. Ons
sal volledige inligting aan u stuur.
Groete
Henry Luyt
Voorbeelde van Gedigte
Verruklike Geluk
Ritmies rol ‘n drom van ver,
op die maat van ‘n blye hart
wat ritmies reële passie pomp;
baar ‘n melodie net vir jou.
Soet suis ‘n fluit sy fluitsinge,
tower-teer tril ‘n luit syne uit;
‘n melodie wat ‘n boodskap dra
van vreugde deur jou wese omvou.
Vrolik blêr die Konsertina bly,
heerlik dans die Banjo, o so vry.
Jou hart lag op die maat van die lied,
suig honger aan die vreug jou gebied.
Dawerend’ klanke van klimaks vul die lug,
jy verdrink in instrumentele harmonie.
Kresendo van passie bars deur jou hart
as liefde vervloeid stil aan jou tart.
Die vrolike lied sweef stadig weg,
dít wat jou betower in liefde sag,
sodat jy weet dat daar vir jou wag,
‘n iemand om jou met geluk te verruk.
© Henry Luyt
Vertroosting
Ek het gehoor van jou smart
wat jou gemoed so tart.
Weet dat my hart voel joue mee,
wil jou ondersteun elke tree.
Dis egter al wat ek kan wou
want ek is ver van jou.
Maar my Meester is aan jou sy,
al om jou terwyl jy ly.
Hy wil jou in sy vlerke vou,
liefdeswoordjies fluister aan jou.
Vrede begeer Hy jou te gee
en jou pad te wandel met jou mee.
Ek bid dus dat Hy jou vertroos,
aan jou gee die geurigste roos.
En terwyl ek slegs aan jou kan dink,
kan Jesus jou in Sy liefde verdrink.
© Henry Luyt
'n Afrika Liefdeslied
'n Wind fluister wasig deur pratende populiere
wyl water koel kabbel oor kleurvolle klippers.
Wenend vermeng die koer van 'n tortelduif
met die vrolike voël-verblydende koor.
My hart bons drommend deur my siel...
Sonbesies skril skreiend in gesellige gloed,
harmonieër met kras kraai gaap-krakinge,
wyl die hadidah ritmies 'n a-a-aaa-ha laat val -
in die verte 'n hiëna verwese, verlangend blaf.
Deur my gees flits verwagtinge van jou...
'n Sagte lig verglans die veld, sku-skadu-kollend;
skaam meng bewende padda- en kriek towering -
huiwer-trillend vanuit wie-weet-waarvandaan -
met uil hoetinge waarop vlermuise vlietend dans.
Op die maat van Afrika dans ons harte,
bewe die vreug van saamwees trillend teer,
gons eenwees gillend deur ons gees
as ons met hartstog versmelt kan wees.
© Henry Luyt
As Ek Jou Besoek
Wanneer ek te veel verlang
wil ek sommer aan ‘n wolk hang,
en tydsaam sweef na waar jy wag,
wyl ek heeltyd dink aan jou so sag.
As die wolk by jou opdaag,
ontvou dit in ‘n mistig vlaag,
vloei ek daarmee saam by jou in
waar ek jou, in my kokon toespin.
Jou ewig snoesig by my hou,
in my liefdeswolk toegevou.
© Henry Luyt
Verjaar… wat ‘n gevaar!!
Verjaar… wat ‘n gevaar
Die lekker wanneer almal oor jou bohaai
en jy vir die dag koningin oor almal kraai,
die warmte daarbinne stoom sommer op
as liefde die eensaamheidskraan toestop.
Verjaar… wat ‘n gevaar
Almal babbel en eet al jou harde werk,
eintlik is jy steeds alleen sonder perk,
want iemand moet die ding laat word
en oor die gaste versot-genot uitstort.
Verjaar… wat ‘n gevaar
Hoekom is verjaar dan soseer ‘n gevaar?
Jy was ‘n hele jaar jonger die vorige jaar
en as jy op jou tone met wiskunde is
is daar die moontlikheid dat jy ouer is
Maaaar…
Verjaar bly altyd ‘n lekker ding,
veral as almal so gesellig sing
en jy soos ‘n koningin dan voel,
weet jy die dag is vir jou bedoel.
© Henry Luyt
Ons en die Goggas se Sprokie Aand
Kom, gaan uit saam met my
na die middag jazz konsert
van die somer sonbesie orkes.
Voel die bas teen jou boud
as die blêrklanke bewend
ons oortromme laat tril,
wanneer die sonbesie'gent
sy manelpak strelend sidder
en skril sange uitbundig suis.
Kom fladder saam met my
as vlinders ons vrolik onthaal
en ons van blom tot blom
'n feesmaal van nektar verorber.
Dan vrolik tussen kleur en geur
skelmpies, met blomblaar omring,
teenmekaar ritsel en soentjies steel.
Kom geniet die vleipaddakonsert -
ek met my manelpak, jy baie mooi.
Kom dryf op die lelieblaargondel
deur swewende simfonieë betower.
Hou vas aan my wyl ons kabbellend
klein stroomversnellingtjies afbons
op die maat van die paddapolka,
met waterdruising en klikkend riet.
Beleef met my die vuurvliegfantasie -
blinkdansend blitsies in sagnagskadus,
op die maat van die krieke-kabaal
en vliet-flap-piepe van vlermuisvlug.
Sweef sag met my op silwermaanstrale,
weg te raak in ons liefdeverlorenheid,
as ek jou in my arms vou en...
op fladder van die aandwind fluister
ek is baie lief vir jou.
© Henry Luyt